VAKANSIE


Toe ek klein was kon ekke eenvoudig net nie wag vir ons jaarlikse vakansie nie. Wat ‘n lekker uitsien was dit darem nie.  See toe. Jinne ek onthou hoe ver ons moes ry en hoe lank dit ons gevat het maar ook my pa wat altyd ‘n geldjie belowe aan die een wat die see eerste sien.  Dan het ons 3 sussies natuurlik al van net anderkant Oranjeville begin see sien.

Wel, ek moet nou eerlik wees, weinig het vir my verander, want ek is steeds mal oor vakansie (ek wonder of daar iemand is wat nie daarvan hou nie) en ek sien steeds elke jaar  daarna uit. Enige vakansie! Ek sien letterlik die hele jaar uit na ‘n lang verwagte wegbreek vakansie.

Ek is so dankbaar dat ek so bevoorreg kan wees om steeds vakansie te gaan hou en dit op eksotiese plekke (natuurlik verskil eksoties seker van persoon tot persoon). Ek persoonlik sien amper elke plek wat ek al besoek het as eksoties. (eksoties, dis dalk n “topic” vir ‘n ander keer). 

Ek kon as kind eenvoudig nie wag om in die branders te gaan baljaar as ons daar aangekom  het nie, maar ag tog, eers moes die motor uitgepak word, klere in die kas en dan mag ons see toe gaan. Dit was darem vreeslik om so te moes wag. Wie worry tog oor uitpak en regpak, dis mos vakansie?

Ironies genoeg het dit nie baie verander nie. My liewe man is nie veel anders nie. Maak nie saak waar ons aankom nie, daar moet eers uitgepak word en reggepak word en tasse mooi weggepak!!! 

Nou kyk, wat my aanbetref kan ek sommer so uit die tas leef, maar nou ja, pappa hou van “orde”.  Ek gee weer glad nie om nie, vir my part kan ek al ‘n  paar sproete bygebrand het voor ek my tas uitpak. Ek wil net arriveer en met my voete in die seewater staan.

Dan natuurlik die “niks” doen nie, heng dis darem lekker. Of kom ek stel dit so, die weg kom van die alledaagste roetine, tyd om saam met my geliefdes te spandeer. Daar is darem niks lekkerder as om op te staan en nie te worry oor die “fluff” op die kop en slaap in die oë nie. Ag nee wat, net om uit te gaan en die vars seelug in te asem. Te gaan stap op ‘n plek so prentjie mooi dat dit nie eers vasgevang kan word op n “kiekie” nie. 

Nou vir die van julle wat nie so oor vakansies voel nie, of dalk wel sukkel om ‘n vakansie te oorleef hier is ‘n paar wenke :

·         Stuur jou innerlike kritikus buite in die koue, stop om jouself te beoordeel vir die feit dat jy ‘n heerlike vakansie op ‘n eksotiese plek kan hou. (onthou eksoties kan Badplaas ook wees)

·         Maak ‘n lysie van jou eie begeertes en behoeftes en doen dit. Doen presies wat jy wil, wanneer jy wil!

·         Wees “anders” Skryf, dans, skilder, speel maar doen absoluut enigiets uit jou gemak zone!

·         Lag vir jouself en lag vir ander. Lag saam!!

·         Spandeer ook tyd aan die familie, dis tog waaroor dit gaan. Gesels oor dinge wat daar nooit voor tyd is nie.

·         En die belangrikste van alles: Beplan reeds daai volgende vakansie. (sommer so  oppad terug)

Nou ja ek weet nie van julle nie, maar ons is “gesort” vir  die volgende Desember vakansie. Nou is dit net die uitsien wat dit natuurlik nog lekkerder maak.

Die van julle wat nog nie begin beplan het nie, gaan doen dit nou, ‘n mens leef net een keer!!!!!

Liefde
Ekke

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Brief aan Pa

'n Bucket List

Ek stel myself voor